Wednesday, September 5, 2007

Oudtshoorniet hardloop in Duitsland deur Garnett Wicomb


Nadat hy vanjaar vir die eerste keer die moordende Comrades Marathon aangepak en voltooi het, het die 60-jarige Maurice Wicomb van die Oudtshoorn Amateur Atletiekklub pas ook aan ‘n marathon in Duitsland deelgeneem.
Dié voormalige houtwerkonderwyser, wat vyf jaar gelede besluit het om aan padwedlope deel te neem, het aanvanklik net aan die stapitems deelgeneem.
Dit was egter nie genoeg nie en hy het gou begin hardloop.
Sedertdien het hy al aan elke denkbare wedloop in die Suid- en Wes-Kaap deelgeneem en die Twee Oseane reeds twee keer gehardloop.
Vanjaar het hy besluit dis tyd om die Comrades aan te durf en die wedloop vanaf Pietermaritzburg na Durban, in 11uuur 28.min voltooi.
Terwyl hy en sy vrou, Penny, verlede maand vir ‘n vakansie van drie weke in Europa was het hy “sommer vir die lekkerte” ingeskryf vir ‘n marathon in Duitsland.
“Die marathon in Bremerhaven, ‘n stad in die noorde van Duitsland, word in die strate van die stad gehardloop en het om 18:00 begin. Dit was ‘n belewenis wat ek altyd sal onthou.”
Wicomb sê hy weet nie hoeveel medaljes hy al om sy nek gekry het nie maar skat dit kan so oor die 200 wees.

No comments: