Friday, July 31, 2009

Wicomb Saamtrek 2009

Ten spyte van gure weer en die son wat sy kop eers teen groettyd die Mandagoggend behoorlik uitgesteek het, was die sewende Wicomb Familiesaamtrek weereens 'n volslae sukses.
Vanjaar se saamtrek, van 24 - 27 April 2009, het soos die vorige vyf weer by die Calitzdorp Spa plaasgevind waar die eerste familie reeds die Vrydagoggend aangekom het. Hulle was Peter (WAP) Wicomb van die Kaap, Rowan Wicomb van die Oos-Kaap en Bobby en Jean Wicomb, ook van die Oos-Kaap.
Dit het Vrydagaand lekker gereën en van die beplande “bring-en-braai” het ongelukkig niks van gekom nie maar daar is tog lekker oor en weer gekuier in die motreën en het die drie komitees ook bymekaar gekom. Daar is ook lekker gebraai teen die berg tot omtrent 4 uur die oggend.
Teen Saterdagoggend was al 42 chalets vol en ook karavane en tente vir 'n totaal van sowat 300 van ons.
Die verwelkoming in die restaurant was 'n heuglike geleentheid want daar is gegroet en gegroet en gegroet.
By dié geleentheid het een van die Wes-Kapenaars die leiding geneem.
Saterdagmiddag was weer tyd vir die spanspeletjies waar veral die jongspan lekker betrokke was.
Ten spyte van die weer was daar mos genoeg warm water waarin geswem kon word en baie van die familie het behoorlik gebruik gemaak daarvan, sommige vroegoggend en ander laataand.
Die gesamentlike funksies het ietwat van ‘n knou gekry met die konferensiesaal wat nie meer benut kan word nie.
Die twee groot tente wat opgeslaan is om hiervoor te vergoed kon as gevolg van die reën ook nie benut word nie.
Die Saterdagaand was weer Kerrie-en-rys tyd wat weer voorberei is deur die Oos-Kapenaars . En was dit nie 'n lekker sterke nie, net reg vir die koue.
Die Oos-Kaapse jongspan het almal verras met ‘n gelukkige trekking waarin verskeie pryse gewen kon word. Na ete was dit tyd vir jolyt, grappe en sang.
‘n Groot dank aan Aubrey Wicomb en Godfrey Brink wat baie moeite gedoen het met die stamboom en geskiedenis van die Wicombs.
Sondagoggend se wandelpad het ook vasgesteek hoewel daar tog 'n paar vasbyters was wat wel die 2,5km wandelpad aangedurf het.
Die hoogtepunt van die naweek was weer die dankseggingsdiens die Sondagoggend. Dit was lekker loslit met Uncle Simon Swigelaar wat ‘n kort boodskap gebring het en Fanny Lekay, eggenote van Ivan, wat as diensleier opgetree het.
Hulde is weer gebring aan ons voorouers en Uncle Amp het ‘n kers aangesteek vir geliefdes wat sedert die laaste saamtrek gesterf het.
Uncle Amp, tans die oudste familielid, het weereens die belangrikheid van familiesaamtrekke beklemtoon.
Die Sondagmiddagete was ook ‘n treffer danksy die spyseniers, Andrew, sy vrou, Maureen, en ‘n helper wat gesorg het vir ‘n heerlike ete.
Weens die weer kon die amptelike fotosessie nie daarna plaasvind nie en is tot byna 5 uur gekuier en nuwe familie ontmoet.
Kort hierna het die Kapenaars vure aangesteek om die snoek te begin braai en teen agtuur het ons aangesit vir lekker Kaapse snoek, patat en gebakte brood.
En oja, niemand kon kla oor die kos nie want by al drie gesamentlike etes was daar meer as genoeg. Genoeg vir “seconds” en “thirds”. Hierna was dit “Om die kampvuur’ met staaltjies en grappies waaraan oud en jonk deelgeneem het. Louthar Herringer (11) was die jongste deelnemer en Uncle Harold Wentley (80) die oudste storie- en grappievertellers.
Uncle Harold het selfs ‘n liedjie ( “Mother”) gesing ongeag die stem wat nie meer is wat dit so twintig jaar gelede was nie.
Maandagoggend was groettyd en huistoe gaan. en het elke streek geleentheid gekry om bedankings te doen. Almal was dit eens dat dit in baie opsigte een van die beste saamtrekke tot nog toe was.
Die gebruiklike fotosessie kon ook plaasvind hoewel van die familie ongelukkig al moes aan huistoe.
Die afskeid was swaar en almal was dit eens dat dit een van die beste saamtrekke tot dusver was.
Gevra wanneer die volgende sal wees was die antwoord “September vanjaar.”
Aan almal wat dit so ‘n lekker saamtrek gemaak het baie, baie dankie. Sal darem nie voor 2011 weer kan saamtrek nie.