Wednesday, September 5, 2007

Oudtshoorniet hardloop in Duitsland deur Garnett Wicomb


Nadat hy vanjaar vir die eerste keer die moordende Comrades Marathon aangepak en voltooi het, het die 60-jarige Maurice Wicomb van die Oudtshoorn Amateur Atletiekklub pas ook aan ‘n marathon in Duitsland deelgeneem.
Dié voormalige houtwerkonderwyser, wat vyf jaar gelede besluit het om aan padwedlope deel te neem, het aanvanklik net aan die stapitems deelgeneem.
Dit was egter nie genoeg nie en hy het gou begin hardloop.
Sedertdien het hy al aan elke denkbare wedloop in die Suid- en Wes-Kaap deelgeneem en die Twee Oseane reeds twee keer gehardloop.
Vanjaar het hy besluit dis tyd om die Comrades aan te durf en die wedloop vanaf Pietermaritzburg na Durban, in 11uuur 28.min voltooi.
Terwyl hy en sy vrou, Penny, verlede maand vir ‘n vakansie van drie weke in Europa was het hy “sommer vir die lekkerte” ingeskryf vir ‘n marathon in Duitsland.
“Die marathon in Bremerhaven, ‘n stad in die noorde van Duitsland, word in die strate van die stad gehardloop en het om 18:00 begin. Dit was ‘n belewenis wat ek altyd sal onthou.”
Wicomb sê hy weet nie hoeveel medaljes hy al om sy nek gekry het nie maar skat dit kan so oor die 200 wees.

Saturday, September 1, 2007

Maurice wen prys-stuur ouers oorsee


Ouers oorsee met prys wat seun wen


OUDTSHOORN.- ‘n Egpaar van Oudtshoorn is op pad na die Rugby Wêreldbeker in Frankryk danksy ‘n prys wat hul seun, ‘n bankier by ‘n plaaslike handelsbank, met sy harde werk losgeslaan het.
Garnett Wicomb en sy vrou, Maureen, sal die wedstryd tussen Suid-Afrika en Engeland in die Stade de France in Parys bywoon, danksy ‘n prys wat hul seun, Maurice, met kredietkaartverkope gewen het.
Maurice, wat slegs sewe maande gelede by Nedbank begin werk het, het in dié tyd uitsonderlike prestasies behaal waarvoor hy nou terdeë beloon is.
Hy het in Januarie vanjaar by die Nedbank-tak op Plettenbergbaai 35 begrafnisplanne in een maand verkoop.
Na vier maande by die tak is hy aangestel by die bank se tak op Oudtshoorn.
In Julie was hy onder die bank se top 20 bankiers in die land met algemene verkope soos huislenings, motorfinansiering, besigheidsrekeninge en nuwe tjekrekeninge.
Vir dié prestasie is hy beloon met Nedbank se prestasiemotor, die Smart Roadster Car, waarmee hy vir twee maande kan rondry sonder om ‘n sent uit sy sak te haal.
Dit was egter sy kredietkaartverkope in twee agtereenvolgende maande wat aan hom ‘n oorsese vakansie in Frankryk besorg het.
Hy het die tweede beste gevaar in ‘n landwye kompetisie waarin Nedbank se twee beste bankiers elk twee persone na Frankryk kon stuur.
Die prys sluit die twee rugbykaartjies op 14 September in,luukse verblyf in ‘n hotel naby die stadion, vervoer, vermaak en etes.
Maurice het egter besluit om die prys aan sy ouers te skenk.
“Die dag toe ek gehoor het van die kompetisie het ek besluit om daarvoor te werk.
“Deesdae is dit nogal moeilik om kredietkaarte te verkoop omdat die nuwe kredietwet soveel strenger is as voorheen, maar ek het besluit ek gaan die prys vir my ouers wen. En ek het.”
Maurice se ma Maureen sê hulle is besonder dankbaar vir die geleentheid wat hul seun hul bied en sien hulle uit na ‘n eens in ʼn leeftyd geleentheid.
Die Wicombs sal van 12 tot 15 September in Parys wees.