Sunday, May 25, 2014

Wicombs se 9de familiesaamtrek

deur GARNETT WICOMB
Die  neënde Wicomb familiesaamtrek wat oor die naweek van 26 – 28 April 2014 vir die agtste keer by die Calitzdorp Spa gehou is, was soos al die  voriges weer ’n groot sukses met talle familielede wat vir die eerste keer een bygewoon het.
Net meer as 200 familielede het vanjaar se saamtrek bygewoon. Die eerste saamtrek is in 1992 in De Hoek gehou en die beplanning vir die tiende, moontlik reeds volgende jaar; het reeds begin.
Die 93-jarige mnr Ampie Wicomb van Oudtshoorn en die 89-jarige mnr Awie Wicomb van Riversdal was die twee oudste familielede wat vanjaar se saamtrek bygewoon het en die belangrikheid van familiesaamtrekke kon weereens nie oorbeklemtoon word nie.
“Sulke saamtrekke is belangrik om familiebande te verstewig en die jonger geslag in te lig oor die familie se herkoms,” het mnr Ampie Wcomb gesê..
Die 80-jarige mnr Dan Wicomb van die Oos-Kaap het tydens die gebruiklike dankseggingsdiens, gelei deur me Olga Le Roux van Kaapstad, die kranslegging waargeneem ter nagedagtenis aan al die Wicomb voorsate, terwyl mnr Awie Wicomb ’n kers aangesteek het vir al dié familielede wat sedert die agtste saamtrek in 2011 gesterf het.
Die krans is later die middag na Matjiesrivier geneem waar dit in een van die begraafplase in Zuurhoek op die graf van Robert Daniel Wicomb, die vader van mnr Ampie Wicomb, gelê is.
Tydens Saterdag se familie pretdag het die Wicombs van Oudtshoorn weer koning gekraai in die toutrek.
Die eerste Wicomb in Suid-Afrika was ’n skeepsdokter van Skotland, wat volgens navorsing in die vroeë 1700’s in Plettenbergbaai aan wal gestap het nadat die skip waarop hy gereis het tydelik gestrand was.
Hier het hy tweelingseuns gehad by ’n vrou van Jawa, ’n slavin, wat ook kinders gehad het van twee ander mans met die vanne Barnard en Rensburg. Sy is dus die stammoeder van die drie families.
Een van die tweeling het as baba gesterf en die ander, Robert, het sy pa se van (Wicomb) behou. Hy trou met Netta Kruitzenberg en hul seun, ook Robert (1818 -1905), trek oor die Knysna-berge tot in die Langkloof. Hy begin om bokke aan te koop en trek verder deur De Rust, Klaarstroom, Prins Albert en oor die Swartberge tot in Matjiesrivier waar hy met Bella le Roux  (1818 – 1898) trou en plase vanaf  Zuurhoek al langs die rivier af aankoop. Agt kinders, Robert, Simon, Jeanetta, Frederick, Daniel, Moses, Alida en Abraham word uit dié huwelik gebore en dit is hulle nasate en gesinne wat die 9de saamtrek bygewoon het.