Saturday, May 14, 2016

10de Wicomb Familie Saamtrek

deur Garnett Wicomb:
Meer as 200 Wicomb-familielede het die afgelope naweek (29 April - 2 Mei) die 10de familiesaamtrek by die Calitzdorp Spa bygewoon, 24 jaar nadat die eerste in 1992 in De Hoek plaasgevind het.

Hulle is almal die afstammelinge en ingetroude familie van die agt kinders van Robert Wicomb (1818-1908) en Isabella (néé Le Roux 1818 - 1908) van Matjiesrivier, naamlik Robert, Daniel, Frederick, Simon, Moses, Jeanetta, Abraham en Alida.

Die twee hoogtepunte van die naweek was Saterdag se familiesportdag en die tradi-sionele dankseggingsdiens Sondagoggend.

Tydens die sportmiddag waaraan oud en jonk deelgeneem en vir groot pret gesorg het, het die span van die Oudtshoorn-distrik koning gekraai en 'n pragtige wisseltrofee ontvang. Die span van die Wes-Kaap het egter die toutrek gewen.

Tydens die dankseggingsdiens, gelei deur een van die familielede, pastoor Edgar Prince, is hulde gebring aan die familie se voorouers en kerse aangesteek vir familielede wat sedert die laaste saamtrek in 2014 oorlede is, onder wie die sanger, Randall Wicomb. Prince het die jeug aangemoedig om doelgerig te bly in hul toekomsplanne.
Tydens 'n bespreking Saterdagaand het Simon Swigelaar 'n insiggewende praatjie oor die familiegeskiedenis gelewer.

Hy het 'n pleidooi tot die jonger geslag Wicombs gedoen om te probeer uitvind waar die familie se stammoeder, 'n slavin wat in 1658 hierheen gebring is, begrawe lê.

Die oudste lewende Wicomb is die 95-jarige Adam (Ampie) Wicomb van Oudtshoorn, wat steeds baie goeie gesondheid geniet.

Die volgende saamtrek word in 2018 en waarskynlik ook weer by die Calitzdorp Spa gehou.






CLICK ON THE LINK BELOW TO SEE ARTICLE IN LOCAL NEWSPAPER
http://www.oudtshoorncourant.com/news/News/General/163180/Meer-as-200-familielede-by-Wicombsaamtrek