deur GARNETT
WICOMB
Die
neënde Wicomb familiesaamtrek wat oor die naweek van 26 – 28 April 2014 vir
die agtste keer by die Calitzdorp Spa gehou is, was soos al die voriges weer ’n groot sukses met talle
familielede wat vir die eerste keer een bygewoon het.
Net meer as 200 familielede het vanjaar se
saamtrek bygewoon. Die eerste saamtrek is in 1992 in De Hoek gehou en die
beplanning vir die tiende, moontlik reeds volgende jaar; het reeds begin.
Die 93-jarige mnr Ampie Wicomb van
Oudtshoorn en die 89-jarige mnr Awie Wicomb van Riversdal was die twee oudste
familielede wat vanjaar se saamtrek bygewoon het en die belangrikheid van
familiesaamtrekke kon weereens nie oorbeklemtoon word nie.
“Sulke saamtrekke is belangrik om
familiebande te verstewig en die jonger geslag in te lig oor die familie se
herkoms,” het mnr Ampie Wcomb gesê..
Die 80-jarige mnr Dan Wicomb van die
Oos-Kaap het tydens die gebruiklike dankseggingsdiens, gelei deur me Olga Le
Roux van Kaapstad, die kranslegging waargeneem ter nagedagtenis aan al die
Wicomb voorsate, terwyl mnr Awie Wicomb ’n kers aangesteek het vir al dié
familielede wat sedert die agtste saamtrek in 2011 gesterf het.
Die krans is later die middag na
Matjiesrivier geneem waar dit in een van die begraafplase in Zuurhoek op die
graf van Robert Daniel Wicomb, die vader van mnr Ampie Wicomb, gelê is.
Tydens Saterdag se familie pretdag het die
Wicombs van Oudtshoorn weer koning gekraai in die toutrek.
Die eerste Wicomb in Suid-Afrika was ’n
skeepsdokter van Skotland, wat volgens navorsing in die vroeë 1700’s in Plettenbergbaai
aan wal gestap het nadat die skip waarop hy gereis het tydelik gestrand was.
Hier het hy tweelingseuns gehad by ’n vrou
van Jawa, ’n slavin, wat ook kinders gehad het van twee ander mans met die vanne
Barnard en Rensburg. Sy is dus die stammoeder van die drie families.
Een van die tweeling het as baba gesterf en
die ander, Robert, het sy pa se van (Wicomb) behou. Hy trou met Netta
Kruitzenberg en hul seun, ook Robert (1818 -1905), trek oor die Knysna-berge
tot in die Langkloof. Hy begin om bokke aan te koop en trek verder deur De
Rust, Klaarstroom, Prins Albert en oor die Swartberge tot in Matjiesrivier waar
hy met Bella le Roux (1818 – 1898) trou
en plase vanaf Zuurhoek al langs die
rivier af aankoop. Agt kinders, Robert, Simon, Jeanetta, Frederick, Daniel,
Moses, Alida en Abraham word uit dié huwelik gebore en dit is hulle nasate en gesinne
wat die 9de saamtrek bygewoon het.
http://www.diehoorn.co.za/2014/05/08/wicomb-familie-9de-keer-saam/#.U2uXzYGSxyU
http://www.oudtshoorncourant.com/news.aspx?id=75621&h=Wicombs-se-9de-saamtrek
http://www.oudtshoorncourant.com/news.aspx?id=75621&h=Wicombs-se-9de-saamtrek